![]() Contact Artefacts | MenuHomeUpfront Now Up Books Towns Structures People Firms Lexicon | Eerste Landdroshuis (First Magistrate's house) | |||||
| |||||||
Click to view large map Coordinates: | Eerste Landdroshuis op Lydenburg (First Magistrate's house at Lydenburg) Marius Bakkes 'n Mens wonder of daar nog van die ouer inwoners is wat onthou van die ou landdroshuis op die hoek van Bührmann- en Langestraat. Vandag is daar twee nuwe woonhuise op die erf. Die ouer huis wat nou Langestraat nr. 1 is, moes hier in die 1930s rond gebou wees. Dié huis moes lank die erf met die ou landdroshuis gedeel het, want die nuwer huis is sigbaar op fotos van die ou huis wat in Lydenburg se Eeufeesgedenkboek in 1950 verskyn. Iewers in die vroeë sestigerjare het die vervalle grasdak-woonhuis wat ook lank as 'n kunstenaar se ateljee diens gedoen het, in die stof gebyt. Die historiese waarde daarvan is toe al besef. Dis opgemeet en versigtig afgebreek om eendag by 'n beplande opelugmuseum weer herbou te word. Me. Etta Judson wat lank die kurator van die museum hier op Lydenburg was, sê die Nasionale Kultuurhistoriese Museum in Pretoria het vroeër jare so 'n opelugmuseum met volksboukuns beplan. Met die veranderde tye het daarvan niks gekom nie. Wat toe van die sorgvuldig gebergde roustene en dakbalke geword het, weet nugter. Fotos van die ou landdroshuis het onlangs met die dood van Tannie Annetjie Bosman weer na vore gekom. Haar dogter Mariette was hier om haar huis op te ruim. Sy het toe die seldsame fotos aan ons hier by die koerant geleen. En dis waar ons speurtog begin – ek en die beminde oom Hansie Meyer – 'n man met 'n eindelose belangstelling in die streek en sy geskiedenis. Uit 'n afskrif van die doktorale tesis van die latere professor Gert Duvenhage oor die geskiedenis van die Republiek van Lydenburg wat Oom Hansie in sy versameling het, kry ons 'n ou straatplan van Lydenburg. Hierop is die oudste erwe wat voor 1856 bewoon was, ook aangedui. Die twee boonste burgererwe tussen Lange- en De Clerqstraat bo teen wat later Bührmanstraat sou word, het behoort aan Cornelius Potgieter. Ook die langwerpige huis op die hoek van die boonste erf word op die kaart aangedui. By die foto van die huis op bl. 121 in Lydenburg se Eeufeesgedenkboek van 1950 sê nog 'n bekende streekshistorikus, PA van der Merwe, dat dit die huis van Jacob de Clerq Jnr. was. Hy was die eerste landdros van Lydenburg. Cornelius Potgieter het De Clerq eers in 1860 as tweede landdros van Lydenburg opgevolg. Aan wie die huis behoort het, en of altwee dit tydens hul ampstermyne bewoon het, kon ons nog nêrens opspoor nie. De Clerq is in 1824 gebore en maak die Groot Trek as opgeskote seun mee. Sy vader is die eerste landdros op Winburg en later Klerksdorp. Hy trou in 1848 met Martha van Rensburg. Hulle het elf kinders. As Trekkerskind het De Clerq 'n merkwaardige en goeie skoolopvoeding gehad. Doen later self moeite om van Lydenburg na Natal te ry om 'n Meester Hendriks vir sy eie kinders se skooling te gaan haal. Jacob de Clerq is in 1850 een van die eerstes om van Ohrigstad na die gesonder klimaat van Lydenburg te verhuis. PA van der Merwe skryf hy gaan woon op die hoek van Lange- en Bührmanstraat. Cornelius Potgieter was die tweede vaste landdros van Lydenburg. Gebore in 1816 was hy 'n neef van die Voortrekker Hoofkommandant Andries Hendrik Potgieter. Hy was getroud met Kattotjie Espag. Hy het sy taak as landdros vanaf 1860 tot 1869 uitgevoer toe hy dood is aan swartwater. Potgieter was ook 'n Volksraadslid van die Republiek van Lydenburg voordat daar met die res van die Voortrekkergemeenskappe in die Transvaal saamgesmelt is. Van der Merwe sê dat Cornelius Potgieter een van die eerstes was om 'n huis op Lydenburg te bou. Dit bring verwarring oor wie dan die landdroshuis gebou het – De Clerq of Potgieter. Potgieter is na sy dood opgevolg deur Arnold Jansen. Dié Hollander het hier aangekom as onderwyser. Hy is later getroud met Anna Malan, dogter van Jacob Malan. Malan is vandag nog bekend vir sy betrokkenheid met die twee ruiltransaksies met die Pedis en Swazi's, wat die hele Oos-Transvaal wat destyds feitlik onbevolk was, in Voortrekkerbesit gelaat het. Jansen was eers hulplanddros vanaf 1866. Met die Britse anneksasie van Transvaal moes hy sy amp neerlê. Hy hervat dit egter weer na die Boere se oorwinning by Majuba in 1881 en die herinstelling van die Republiek met Kruger as President. Jansen sterf in 1895. Dis egter onseker of hy en sy gesin ook in die landdroshuis gewoon het. |