| 1957 |
|
|
| Jul |
|
Na aanleiding van gebeure soos die verskyning van die Tomlinson Verslag (1954) en die besoek van Dr. Oswald Smith besluit die Ned. Geref. Kerk om sy sendingaksie in die sg. tuislande uit te brei (die Transkeise Gebiedsowerheid is in Mei 1957 ingestel). Eerw. A.G. Kellerman inisieer sendingwerk by Elliotdale, maar moet na twee maande vanweë asmatiese aanvalle weer vertrek. Dr. David en Annemie Bosch kom in Elliotdale aan om sendingwerk van die Ned. Geref. Kerk daar te vestig. Hulle word deur Dr. Bingle (mediese praktisyn) en Mnr. Gray (handelaar) goed ontvang. |
| 9 Jul |
|
Ná ’n telegram van Ds. PES Smith (wat deur die sentrale voorgelees is) skryf David: “Vanaf hierdie moment is ons dus sendelinge van Elliotdale”. |
| 15 Jul |
|
‘n Terrein by die Madwaleni-handelstasie word besoek. |
| 16 Jul |
|
Drie bladsye uit Dietrich Bonhoeffer se Nachfolge word in die Stasiedagboek (waaruit die meeste van hierdie Kroniek se inligting kom) aangehaal. |
| 17 Jul |
|
David besoek Kaptein Dalibunga saam met Eerw. Dolf Wentzel van Zithulele. Ete by Piet en Dora Goosen op Mqanduli. Hulle woon ‘n offerseremonie vir ‘n siek kind by. ‘n Geslagte bokvel word oopgesprei en ‘n Bierkannetjie daarop geplaas. Die kind drink van die bier en die res word vir die voorvaders uitgegooi. Agt ‘witkraal toordokters’ is teenwoordig. “Hoeveel groter krag is daar nie in die evangelie nie?”. |
| 19 Jul |
|
Op besoek rondom Elliotdale preek David aan drie verskillende groepe. |
| 20 Jul |
|
David en Annemie woon ‘n abakwetha-dans by met sy “ritmiese herhaling van dieselfde vulgêre bewegings”. |
| 24 Jul |
|
David kry toestemming by ‘n kraalhoof om woorde (uit Matt. 10:28) by ‘n bierparty met omtrent 70 mense te sê. |
| 10 Aug |
|
Die Belastingbetalersvereniging van Elliotdale besluit om 5 morg grond net buite die dorp aan die Ned. Geref. Kerk vir £25 te verkoop. David besoek die terrein saam met Ds. Bart Wooding, Mnr. Alex Kapp en Mnr. Gately en die bouery, veral die water en boumateriaal, word beplan. |
| 11 Aug |
|
David op besoek met Evangelis Philip Motale waar Hoofman Dilikile meld dat ‘n buitepos by Dabane toegestaan is. |
| 20 Aug |
|
Die werkery begin met behulp van “bandiete”-arbeid. |
| 23 Aug |
|
Die konkreetblad vir baksteenmakery word gelê. |
| 1 Sep |
|
Dienste word gehou by Dabane en Lucwecwe - 50 plaaslike jongmans gewapen met kieries wat in die buurt versamel het, word tevergeefs genooi om die diens by te woon. |
| 2 Sep |
|
David op besoek by Hoofman Phewula op pad na Xuba in die Mbashe-vallei om ‘n buitepos aan te vra. |
| 5 Sep |
|
‘n Span gevangenes maak 1,200 stene. David maak self met pik en graaf ‘n ruwe pad vanaf die Mqanduli-pad na die bouterrein. |
| 10 Sep |
|
Nuus dat die Minister van Naturelle Sake die aansoek om ‘n terrein op die dorpsmeent afgekeur het op grond daarvan dat dit ‘n blanke gebied is. Die 5 morg-transaksie blyk ook ongeldig te wees. |
| 11 Sep |
|
‘n Reëling word getref om die volgende dag die terrein by Madwaleni te gaan uitmeet. David, die magistraat en die hoofman is betrokke. |
| 21 Sep |
|
‘n Basaar van die Mqanduli-buitewyk van die Ned. Geref. Gemeente op Umtata lewer £95.10.0 op. |
| 22 Sep |
|
Na net twee maande word die eerste katkisasieklas by Dabane met 15 mense begin. Party van hulle kom van ander kerke. |
| 5 Okt |
|
David is terug vanaf ‘n veldtog in Willowvale. |
| 8 Okt |
|
Rev. Dibongo kla by die magistraat dat lidmate van Miller Mission afgerokkel word. |
| 9 Okt |
|
Ds. Ockie Raubenheimer laat weet dat die gemeente van Oudtshoorn-Wes die salaris van die leraar op Madwaleni betaal. |
| 20 Okt |
|
Mnr. Pat Lawlor bied aan om 2½ morg van sy handelstasie by Madwaleni se grond vir ‘n nuwe terrein te verkoop. |
| 22 Okt |
|
David se eerste preek in Xhosa (by Dabane) ná deeglike taalstudie. |
| 28 Okt |
|
Evert Fredrick (Fritz) Bosch word gebore met bystand van Dr. Bingle en Sr. Mattie Aucamp (van Zithulele). |
| 10 Nov |
|
Dabane bied aan Fritz ‘n geskenk van £1.3.0. |
| 17 Nov |
|
David “in ‘n benarde posisie”: hy het nie ‘n Xhosa preek gereed nie. Dolf Wentzel daag gelukkig op. |
| 20 Nov |
|
‘n Hoë deputasie – Prof. A.C. van Wyk, Ds. W. van der Merwe en Ds. Piet Smit – keur die terrein goed. |
| 22 Nov |
|
Die Bomvana Opperhoof, Zwelinqaba Gwebindlala, is gunstig gestem t.o.v. die oprigting van ‘n hospitaal. |
| 1 Des |
|
By Dabane daag 44 mense op en daar is ook ‘n goeie opkoms by Lucwecwe. |
| 1958 |
|
|
| 22 Jan |
|
Ds. Pine Pienaar lei die taalskool op Port St Johns. |
| 10 Feb |
|
Ev. Ndotho kom op Dabane aan en 65 mense woon sy bevestiging by. |
| 31 Mrt |
|
David woon sy eerste ringsitting (op Cala) by. |
| 10 Mei |
|
Vyftien lidmate word op Dabane “aangeneem”. |
| 10 Mei |
|
Dertien word voorgestel as lidmate, gebruik nagmaal en twee word gedoop. |
| 6 Jun |
|
David word as lid van die Raadskommissie verkies by ‘n Raadsitting te Umtata. |
| 7 Jun |
|
Ds. Jopie Uys op Mqanduli neem die buiteposte Genqe en Lucwecwe oor. |
| 22 Jun |
|
David saam met Dolf Wentzel na Bulungula wat van Zithulele oorgeneem word. |
| 28 Jun |
|
Pine en Anna Pienaar se vier weke oue baba oorlede en David hou die begrafnis. |
| 13 Jul |
|
Die eerste diens by Madwaleni word deur 45 Rooimense bygewoon, “rou, rou, rou”. Die mense verstaan nie waarom hulle nie mag gesels nie en die ou vroue wil net aaneen langsteelpype stop en aansteek. |
| 30 Okt |
|
Die eerste vergadering van die hospitaalkomitee op Elliotdale met David, Sr. Aucamp, Eerw. Wentzel, Dr. Bingle and Mnr. J Fenwick (Kommissaris van Naturelle Sake) wat dit bywoon. £13,000 is vir die bou van ‘n hospitaal beskikbaar. Die hospitaal se grondplan tesame met die doktershuis, ‘n dameshuis en ‘n verpleegstershuis word voorgelê. |
| Des |
|
David skryf: “Aangesien ons hier as’t ware pionierswerk doen, het ons dit goed gedink om die hoofklem op huisbesoek en persoonlike werk te laat val. Dis tog tragies dat ons mans alleenlik in die tronk of by bierpartye kan bereik”. |
| 1959 |
|
|
| 24 Jan |
|
Die Bosch-gesin trek in die nuwe pastorie in – die eerste voltooide gebou opgerig met Mnr. Kapp as bouer. |
| 22 Feb |
|
David preek vir die eerste keer sonder ‘n manuskrip. |
| 23 Feb |
|
Katkisasie vind nou drie keer per week plaas. |
| 8 Mrt |
|
Mense dra Westerse klere na die dienste, maar in die week nog rooikomberse. |
| 5 Apr |
|
Die kerkie op Dabane word ingewy – op die voormuur ‘n groot wit kruis op ‘n oker agtergrond. |
| 15 Apr |
|
Uitgrawings vir die kerkgebou op Madwaleni begin. |
| 20 Apr |
|
David Bosch se beskrywing van ‘n reuse besnydenis-seremonie met honderde toeskouers. |
| 7 Mei |
|
David ontvang die proewe van sy gedrukte proefskrif (Die Heidenmission in der Zukunftsschau Jesu wat dieselfde jaar verskyn). |
| 14 Mei |
|
Die kerkmure vorder en die hospitaal se fondamente is voltooi. |
| 18 Mei |
|
Tussen Vrydagaand en Maandagoggend reën dit 14 duim. |
| 20 Jun |
|
Die vrywilliger werkspan van Oudtshoorn-Wes, onder wie ses instrukteurs van die Tegniese Hoërskool op Oudtshoorn, kom aan, 50 van hulle. Die kerkmure is reeds gepleister. |
| 12 Jul |
|
Die inwydingsdiens word deur 400 mense bygewoon waarvan 80 blankes is. ‘n Kruis is bo die ingang aangebring - vergelyk die simbool van die skedel van ‘n geofferde bees binne ‘n hut. |
| 16 Jul |
|
Dawie Bosch word gebore. |
| 25 Jul |
|
David is deel van ‘n afvaardiging wat met Opperhoof Botha Sigcawu samesprekings voer oor Ev. Bara, wat deur die gemeenskap in Lusikisiki-gebied verdryf is. |
| 3 Aug |
|
David gaan haal Kannetjies Kotze by Komga … |
| 6 Aug |
|
… en Sinah Mazinyo by Umtata. |
| 22 Aug |
|
Die eerste tuggeval op Dabane – twee wat saamleef. |
| 3 Okt |
|
Sr. Mattie Aucamp word vanaf Zithulele oorgeplaas. |
| 6 Okt |
|
Die eerste dokter, Gerard Jansen en sy vrou, Ankie, kom aan na ses weke oriëntasie by Dr. Gerrit ter Haar op Rietvlei. Hy begin pasiënte behandel in die ‘kliniek’ wat in sy garage ingerig is. |
| 10 Okt |
|
Boomplantdag. Meer as agt soorte inheemse bome word geplant – elkeen (Annemie, die Jansens, Kannetjies, Malihambe en Vethe) plant elke vyfde boom. |
| 19 Okt |
|
Die eerste leerlingverpleegster, Evelina Buyeye, hou die fort toe die Jansens na Rietvlei is vir die geboorte van hul eerste kind, Elsje, en Mattie by Isilimela moes gaan help. (Evelina se broer, Alfred, is later as laboratorium assistent opgelei en het toe in die hospital gewerk). |
| 20 Nov |
|
Die buitepos by Xuba word uiteindelik deur Hoofman Qondovu goedgekeur. |
| 13 Des |
|
Elsje Jansen, wat op 24 November gebore is, word deur Ds. Wooding gedoop. |
| 1960 |
|
|
| 8 Jan |
|
Die buitekliniek by Nkanya-handelstasie van Mnr. Arthur Lawlor geopen. Kannetjies en Sinah ondersoek terselfdertyd (deur hutte te besoek) die moontlikhede om ‘n Sondagskool en ‘n naaldwerkklas daar te begin. |
| 12 Jan |
|
Nuus is ontvang dat die Gereformeerde Kerk beplan om ‘n teringhospitaal by Elliotdale te bou (dit het nooit gematerialiseer nie). |
| 13 Jan |
|
Die buitekliniek by Hobeni-handelstasie van Mnr. Han Woods begin (hy was die broer van die bekende oud-redakteur van die Daily Dispatch, Donald Wood, na wie die Donald Woods Foundation vernoem is wat in latere jare opgerig is). |
| 27 Jan |
|
‘n Xhosa-taalkursus van ‘n maand lank begin in die nuwe hospitaalgebou. Ds. Koos Oosthuysen kom later by as dosent. |
| 31 Jan |
|
Die klok word vir die eerste keer gelui – al is dit nog nie aan die kloktoring gehang nie. |
| 9 Feb |
|
‘n Jong meisie sterf in die kliniek. |
| 10 Feb |
|
Die kloktoring word op die ‘ysterklippe’ opgerig. |
| 12 Feb |
|
‘n Naaldwerkklas begin by Nkanya in die hut van ‘n belangstellende makhulu en haar twee skoondogters. |
| 27 Feb |
|
Sr. Christina Gouws kom aan as matrone. |
| 12 Mrt |
|
Gerard help 105 pasiente by Hobeni wat vergiftigde vleis geëet het. |
| 13 Mrt |
|
Gerard se eerste preek in die kerk op Madwaleni word deur Sinah Mazinyo getolk. |
| 16 Mrt |
|
Gerard reis per Land Rover na Port Elizabeth vir die aankoop van ‘n X-straal eenheid, ‘n mikroskoop en laboratorium toerusting. |
| 25 Mrt |
|
Die katkisasieklas word deur 48 persone bygewoon waaronder verskeie mans. |
| 31 Mrt |
|
‘n Ringsitting vind plaas op Madwaleni. |
| 26 Mei |
|
Die eerste voorstanders word gekies: Jackson Gabada, Gaelor en William Ntwana. Daar word bepaal dat plaaslike besluite deur die hele gemeente geneem moet word. |
| 30 Mei |
|
Die eerste oggendopening om 7:30 word deur die hele personeel bygewoon. |
| 4 Jun |
|
Vir vier dae aaneen word met die windpomp gesukkel en die watertekort is krities. |
| 5 Jun |
|
Die eerste agt lidmate woon intensiewe katkisasieklasse by, o.a. Vendle en Nophasile Maqokolo en Malihambe. |
| 12 Jun |
|
Die eerste kerkdiens word by Nkanya gehou en 40 mense woon dit by. |
| 19 Jun |
|
‘n Paar ou mense, twee is oor die 70 en een ouer as 90, kry katkisasie na die diens op Madwaleni. |
| 3 Jul |
|
Twee jaar gelede is die eerste stene afgelaai. Nou is die volgende voltooi: die pastorie, dokterswoning, kerk, waterskema en reservoir, dameshuis, verpleegstershuis, bome is geplant en tuine uitgelê. Die sekretarishuis is vensterhoog. Gereelde dienste, bidure, katkisasie, Sondagskool, naaldwerkklasse en tronkdienste word gehou. |
| 4 Jul |
|
Die hospitaalsekretaris, Camp Louw, en sy vrou, Bessie, en hul kinders, Alex, Marlene, Danie en Johan kom aan. Die eerste binne-pasiënt word opgeneem – ‘n kind. |
| 15 Jul |
|
Die eerste volwasse pasiënt, ‘n jongman van Nkanya, word opgeneem. |
| 30 Jul |
|
Die amptelike opening van die hospitaal word met die sing van Nkosi Sikele’ iAfrika afgesluit. |
| 7 Aug |
|
Die eerste tweeling, ‘n seun en ‘n meisie, word in die hospitaal gebore. |
| 18 Aug |
|
Madwaleni kry elektrisiteit nadat ‘n Lister enjin, verskaf deur Stewards & Lloyds, geïnstalleer is. |
| 14 Oct |
|
Dr. Eckhard Oosterhuis op besoek in Gerard se afwesigheid. |
| 16 Oct |
|
David hou die eerste diens op Cwebe en 45 mense woon dit by. |
| 25 Oct |
|
Gerard behandel 30 pasiënte langs die pad na Tafalehashe terwyl twee kwashiorkor kinders en twee volwassenes na die hospitaal gebring word. Die ambulans kom eers na nege die aand tuis. |
| 26 Nov |
|
Die jaarlikse Sondagskool-uitstappie na Nkanya-mond. |
| 1 Des |
|
Teologiese student Buso kom vir twee maande as hulp. |
| 2 Des |
|
Eckhard doen die eerste operasie onder algemene narkose – ‘n veloorplanting van ‘n kind wat deur weerlig getref is (Gerard het geelsug onder lede). |
| 17 Des |
|
Vyf gemeentelede stap uit die erediens toe David op Matatiele oor “Kerk en volk” preek. |
| 24 Des |
|
Na ‘n geselligheid word Kersliedere saam met die verpleegsters vir die pasiënte gesing. |
| 25 Des |
|
Die Kersdienste word swak bygewoon. “Almal eet ‘ikrismisi’ sonder om ‘n idee te hê wat dit beteken”. |
| 27 Des |
|
Tannie Betsie Retief kom aan as dameshuismoeder. |
| 1961 |
|
|
| 1 Jan |
|
Vethe Lohadi, ‘n analfabeet, bring op Cwebe die eerste selfstandige boodskap deur ‘n bekeerling. Tuis het ‘n ander lidmaat die teksdeel herhaaldelik vir hom gelees. Sy leiding van die Vrydag-bidure het hom geleidelik voorberei. |
| 22 Jan |
|
Annelise Bosch word deur Dirk Odendaal gedoop. |
| 7-9 Feb |
|
‘n Mobiele X-straal span van Umtata deurlig binne drie dae ongeveer 300 pasiënte by die Tafelahashe en Hobeni-handelstasies en by Madwaleni en Nkanya. |
| 9 Feb |
|
Mattie vertrek na ongeveer vier jaar diens in die sending. |
| 23 Feb |
|
Mechteld Rannenberg, ‘n verpleegster uit Wes-Duitsland, kom aan. |
| 26 Feb |
|
‘n Bloeiende miskraam ontlok die volgende kommentaar van ‘n verpleegster: “ Ons het alles gedoen wat ons kon (selfs teen alle reëls en regulasies van die Verpleegstersraad) en sy is gespaar”. |
| 11 Mrt |
|
Na weeklikse klasse word die Xhosa-eksamen geskryf – waarop ‘n braai volg. |
| 18 Mrt |
|
Die waterpyp vanaf die Ntlonyana lewer 1,200 gelling per uur. |
| 4 Apr |
|
Veertig studente van die Universiteit van Pretoria besoek Madwaleni onder leiding van Prof. Bertus van Zyl. Op pad terug na Umtata is hul bus in ‘n ligte ongeluk betrokke. |
| 17 Mei |
|
Die tering-hospitaal word in gebruik geneem. |
| 6 Jun |
|
Die eerste pasiënt word in dié afdeling opgeneem. |
| 20 Jun |
|
Gevegte tusssen plaaslike groepe vind binne 500 tree van die hospitaal af plaas. Twee mans is dood en sewe beland met wonde in die hospitaal. |
| 28 Jun |
|
Berigte dat 200 veglustige mans by die Ntlonyana byeenkom. David, Gerard, Alex Kapp en Kobus Koch is na Koning Zwelinqaba toe hul hoor dat 500 krygers om hom versamel het. Gelukkig het die kleiner groep ontglip en is daar nie geveg nie. Die polisie daag later op. |
| 29 Jun |
|
Tydens die stasiebiduur is die geroep, geskree en geblaas op horings nog hoorbaar. |
| 16 Jul |
|
David hou die eerste kerkdiens op Xuba – ongeveer 22 mense woon dit by. |
| 19 Jul |
|
Gerhard Jansen skryf:
“Ons mag nie onvermeld laat nie dat Dr. L. vandag vir die laaste maal op Madwaleni ‘n kliniek (privaat) hou. (Hy het een keer per week vanaf Mqanduli gekom en in ‘n buitegebou van Mnr. Lawlor se winkel hierdie kliniek gehou. Dr. L. het baie Rooikombers-pasiënte getrek en wel met diagnoses ontleen aan die Bomvana-konsep van idliso [toormiddels wat siekte veroorsaak], uiteraard ten koste van die hospitaal se buitepasiënte. Sy fooie was meer as dubbel dié van die hospitaal. Partykeer het die pasiënte wat deur hom gesien is tog later na die hospitaal gekom omdat hulle nie genees is nie en dit is toe met X-strale vasgestel dat hulle TB pasiënte is. Dr. L. het nooit sy pasiënte na die hospitaal vir opname verwys nie.) Hy is van plan om op 2 Augustus a.s. na sy vaderland, Engeland, terug te keer. Ons glo dat sy vertrek ons sendingwerk moontlik ten goede sal kom. Nou sal die mense van Bomvanaland wat rondom Madwaleni woon, moet kies tussen hul eie dokters en die sendinggeneesheer. Ons sien ‘n groot gevaar in die sinkretistiese geneeskunde van baie nie-sendingdokters wat nie ‘n geestelike front teen die magte van die donker heidendom vorm nie, maar met hulle in ‘n kompromie leef. Ons bid dat ons mediese sendingwerk en die aanmoediging van Jesus Christus ingang mag vind onder hierdie mense wat nog gevang is deur die bose magte van toordery.” |
| 21 Jul |
|
Die eerste dogterskamp by Nkanya-mond. Frieda Saaiman van Isilimela kom help. Sewentien dogters, o.a. hospitaalpersoneel, woon dit by. Die kampery onder die bome is blykbaar onwettig aangesien dit Bosbou-gebied is. |
| 22 Jul |
|
Camp Louw bring die boodskap by ‘n kampvuur. |
| 10 Aug |
|
Martha de Villiers kom aan om Gouwsie by te staan. |
| 12 Aug |
|
In Gerard se afwesigheid beleef Gouwsie en Martha ‘n sterfgeval en ‘n moeilike kraamgeval. Die gemeente se oesfees lewer R6.33 op. |
| 14 Aug |
|
Twee maal per week se katkisasieklas word vervang deur ‘n belydenisklas wat vier keer per week vergader. Benewens leerlingverpleegsters, word dit bygewoon deur drie mense ouer as 70, ‘n gewese ‘toordokter’, ‘n vader en seun asook sewe mans. |
| 20 Aug |
|
Vyf-en-twintig volwassenes en 42 kinders woon die diens by Cwebe by. |
| 23 Aug |
|
Ongeveer 100 mense woon ‘n Woensdag hutdiens by Bulungula by, o.a. Vethe en Malihambe. |
| 26 Aug |
|
‘n Vrouekonferensie op Dabane word deur ongeveer 35-50 vroue bygewoon. Gouwsie praat oor voorgeboortelike sorg. |
| 5 Sep |
|
Gerard met vakansie. Gouwsie behandel meer as 50 pasiënte by die buite-klinieke terwyl Martha bont staan met o.a. ‘n man met messteke en ‘n moeilike kraamgeval. |
| 13 Sep |
|
By tye is daar baie onverwagte gaste en vleis nie altyd beskikbaar nie. Daarom gebeur dit dat “een van die twee hospitaalvarke sy lewe a.g.v. al die besoekers verloor”. |
| 16 Sep |
|
Een van Mnr. Pat Lawlor se beeste val van die kranse af (net agter Madwaleni) en die hospitaal koop die vleis. Die slag en opsny neem die Louw span 3½ uur. |
| 24 Sep |
|
Na hul belydenis gebruik nege Bomvanas en 14 hospitaalpersoneel nagmaal. |
| 30 Sep |
|
Afskeid van Alex Kapp wat vir drie jaar bouheer was. |
| 6 Okt |
|
Gerard begin ‘n buite-kliniek by Mgazana-handelstasie. Terselfdertyd word die Nkanya-kliniek gesluit. |
| 10 Okt |
|
Daar is nou meer as 40 pasiënte in die tering-afdeling. |
| 29 Okt |
|
Opperhoof Zwelinqaba hou tevergeefs ‘n ubolowana of inkomo yomlambo vanweë die droogte. By Dabane is daar ‘n pynlike terugval – ‘n manslidmaat leef buite-egtelik met ‘n vrou. |
| 2 Nov |
|
Kannetjies se inskrywing: “As ons terugdink aan alles wat in hierdie dagboek beskrywe is, is daar in ons harte net oneindige dank teenoor die Meester van die oes wat ons so hoog bevoorreg om in sy diens te staan. Tog bly daar in ons harte net die vurige bede: ‘Vader, gee dat U dagboek, waarin net dit wat ewigheidswaarde het aangeteken staan, dié woorde mag verskyn: ‘Hier is my naam verheerlik’”. |
| 17 Nov |
|
Die Bosche vertrek na Potchefstroom vir David se operasie. |
| 25 Nov |
|
Student Mbutsi is vir twee maande hulpvaardig op Madwaleni. Nege-en-negentig kinders woon ‘n Sondagskool-piekniek by die see by. Die hoofman by Cwebe kla dat beeste in die mielies kom terwyl die oppasers by die piekniek is. |
| 25 Nov |
|
“In die hospitaal heers daar ‘n baie onaangename gesindheid – die stafverpleegsters teenoor die blankes”. Die versoek van een van hulle om vroeg weg te gaan vanweë ‘n siek ouma is nie toegestaan nie “aangesien die personeel reeds min is en sy klaar nie ‘n volle maand se kennisgewing werk nie”. |
| 1962 |
|
|
| 19 Jan |
|
Sewe-en-twintig pasiënte in die hospitaal en 55 in die tering-afdeling. Vendle, een van die eerste lidmate, sluit saam met enkele ander by die AbaPostile aan. Hy self is in die tering-afdeling. |
| 21 Jan |
|
Ds. Beyers-Naudé en sy gesin op besoek terwyl stamgevegte by die Ntlonyana plaasvind. ‘n Man word met ‘n byl doodgekap en vier word gewond. Die polisie skiet op jongmanne wat na die Xorarivier vlug en een sterf – dit sou a.g.v ‘n misverstand wees. |
| 14 Feb |
|
David stap oor die vyf myl na Madwaleni toe sy motor in die plantasie gaan staan. |
| 26 Mrt |
|
‘n Man met 11 kapwonde word opgeneem. |
| 1 Apr |
|
Die Bantu Presbyterian Church (BPC) begin dienste by Cwebe hou. “Hoe jammer dat daardie mense wat pas die Evangelie begin hoor het, noual moet kennis maak met die verskeurdheid van die kerk van Christus op aarde”. |
| 20-22 Apr |
|
Pine Pienaar help met die Paaskonferensie wat deur 146-196 mense bygewoon word. |
| 25 Apr |
|
‘n Nuwe kliniek word by Mpozolo-handelstasie van Mnr. Wood in die Willowvale-distrik begin nadat die magistraat se toestemming verkry is. Terselfdertyd word Hobeni-kliniek gesluit. |
| 30 Apr |
|
Twee perde vir sendinggebruik word afgelewer. |
| 3 Mei |
|
Na jare se onderhandelinge word Nkanya-buitepos deur die hoofman goedgekeur. |
| 5 Mei |
|
David bou die buite-latrine van die tering-hospitaal in gietende reën. Sr. Luna Louw kom aan. |
| 6 Mei |
|
A.g.v. die BPC se invloed moet Cwebe verlaat word. Manganyela word egter beskikbaar. (Die Cwebe-buitepos kon later weer vanuit Madwaleni bearbei word toe die BPC onttrek het). |
| 1 Jun |
|
Pinksterbyeenkomste vir die blankes word begin. |
| 10 Jun |
|
Na ‘n bye-insident word ‘n byeboerdery met 6 swerms begin. |
| 19 Jul |
|
Dr. G. C. Malherbe en sy vrou kom van Kuruman af aan om as locum op te tree tydens die Jansens se oorsese verlof. |
| 18 Aug |
|
Vyftig pasiënte in die hospitaal en 69 in die tering-afdeling. |
| 16 Okt |
|
David hou evangelisasie-dienste by Dabane wat deur 84-92 mense bygewoon word waaronder lidmate van ander kerke. Uit ‘n jaarverslag blyk dit dat die gemiddelde aantal mense wat per maand dienste bygewoon het 840 is. 170 kinders het gemiddeld elke week die sewe Sondagskole bygewoon. |